Arena
So vanaand het ek vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd na ‘n produksie by die Scaena van die Departement Drama en Teaterkuns van die Universiteit van die Vrystaat gaan kyk. Dit was Arena.
Ek het baie verwag van hierdie produksie aangesien hulle promosie materiaal my baie geprikkel het met die goed ontwerpte flyers en selfs ‘n paar YouTube videos om vooraf na te kyk. Die produksie is deur Mark Antony Dobson geskryf, gekoreografeer en geregiseur. Maar genoeg met die formaliteite, kom ons val in die gat van my onproffesionele opinie of eerder ervaring van die produksie.
Ek was baie nuuskierig oor wat hierdie sou bied, ek het dit vooraf vir myself uitgemaak as ‘n stukkie eksistensialisme op postmoderne vlak wat deal met die jongmens se deurmekaar verhoudingslewe. Dit was toe op die uiteinde soortvan dit. Die dialoog was minimaal, en daar was eintlik meer op die handelinge gekonsentreer. Beweging was prominent, die heeltyd. Dit was ‘n sterkpunt aan die show.
Op ‘n hermeneutiese vlak het ek verstaan dat die teks met ons (die gehoor) wil kommunikeer deur te sê dat die mens se verhoudings juis ‘n gemors is, omdat daar op ‘n onverklaarbare rede veiligheid in verlorenheid gevind word. In seerkry is daar afstand, maar in daardie juiste afstand is daar sekuriteit. Ek dink wel dat daar baie meer van die tema in die veertig minute gemaak kon word. Die tema van pyn was herhaaldelik op die voorgrond, en moontlik wou daar juis deur ‘n tiepe skokterapie met die gehoor gepraat word, deur eerder op die negatiewe sy die kollig te laat val?
All in all was dit ‘n baie intieme produksie. Klein teatertjie. Warm beligting. Eenvoudige dekor. Goeie musiek keuses. ‘n Veilige omgewing was geskep om harde woorde te uiter, en hopelik ‘n idee of twee te konfronteer.
Comments