Ek het gewonder… As ek ‘n meisie sou ontmoet, sou sy mooi goue krulhare hê? Sou sy grappig saam met my ‘n staproete in die berge gaan doen? Sou ek vir haar koffie en ontbyt op ‘n vuurtjie kon maak? Sou ons verloof raak? Sou ons trou en die lewe saam geniet. En dan eendag oppad na haar werk verongeluk sy. Bring liefde regtig geluk?
Ek het gewonder… Wat as ek deel raak van die 5am club? Wat as ek vroeg opstaan, terwyl almal nog lê en slaap, en vooruit dink. Wat as ek vooruit dink, met die gaping wat ek in die mark gesien het, en my maatskappy kry daardie kontrak. Wat as ek deur daardie harde werk vir my vrou ‘n gemaklike lewe kan gee. Wat as ek deur my harde werk vir my kinders ‘n goeie geleerdheid kan gee? En een aand terwyl ek na-ure op kantoor steeds besig is kry ek die oproep van die onkoloog, die gewas is kwaadaardig, ek het kanker. Bring finansiële sekuriteit regtig geluk?
Ek het gewonder… Wat as ek terwyl ek jonk is ‘n huis in ‘n goeie woonbuurt koop en verhuur? Teen die tyd wat ek aftree is die huis afbetaal en baie werd. Ek sal goed geld gemaak het. Wat as ek dit regkry om my pension so te bestuur dat ek jaarliks oorsee by my kinders kan gaan kuier? En toe lees ek in die koerant dat die bank die rentekoers gaan verlaag, dat die rand weer gedegradeer gaan word, en dat my aandele nog minder werd is. Bring spaarsamigheid regtig geluk?
As ons so na ons lewens kyk, vorentoe vir ons wat jonk is, agtertoe vir die wat al gevorder het in jare, dan vra ons almal, is dit regtig die moeite werd om ’n goeie lewe te lei? Is dit regtig die moeite werd om wyse raad te volg?
Die Prediker het hierdie selfde eksistensiële vrae gevra iewers in die omgewing van 250vC. Die Prediker was waarskynlik deel van ‘n welgestelde gemeenskap wat hulle kinders na hom vir onderrig gestuur het. Daarom kan hy aan die kinders voorstel om mooi klere aan te trek en duur olies vir hul hare te gebruik, al kom dit tot niks.
In Prediker 9:1-6 word twee sake wat nou met mekaar verbind is, aan die orde gestel. Eerstens dat ‘n wyse man nie kan weet wat God weet nie, en dat dieselfde lot almal gaan tref. In vers 1 word verklaar dat God so oor die wyse regeer dat hy self nie weet wat hom gaan tref nie. God is in beheer van die tye en Hy sal sy plan sonder die medewerking van die mens laat realiseer.
Vers 2 en 3a beklemtoon weer dat dieselfde lot almal gaan tref. Ongeag regverdige of verkeerde optrede, gaan een en dieselfde lot almal tref.
Geen mens kan God se werke verstaan nie. Wat ons oor Hom sê, is altyd gebrekkig. Daarom kan ons die lewe, wat God se geskenk aan die mens is, nooit ten volle beskryf nie. Ons almal se bestaan word deur die eindigheid begrens. Hiermee moet ons vrede maak en saamleef.
In Prediker 9:3b lees ons van die mens se reaksie op die lot wat hom tref. Hy gee hom oor aan die boosheid en die kwaad. Dit maak nie eers meer saak hoe jy lewe nie, want ongeag jou lewenstyl, dieselfde lot tref almal.
In Prediker 9:4-6 gee die Prediker aandag aan sowel die lewe as die dood. Dit lyk of die Prediker in hierdie verse ‘n positiewe siening van die lewe voorstaan. Hy sê die lewendes het hoop. ‘n Hond wat lewe, is tog beter daaraan toe as ‘n dooie leeu; ‘n hondelewe is tog beter as geen lewe nie. Die Prediker sê dat die lewendes se voordeel bo die dooies is dat hulle weet hulle gaan sterf. (herhaal) So word die wat lewe se hoop, wanhoop.
Prediker 9:5-6 vertel van die lot van die dooies: Hulle weet van niks nie, daar wag geen beloning op hulle nie, niemand sal weer aan hulle dink nie en gelukkig vir hulle het hulle nie meer deel aan die smart hier op aarde nie.
In hierdie neerdrukkende omstandighede beveel die Prediker in vers 7 lewensvreugde as die hoogste goed vir hierdie lewe aan. Almal is na die sinlose dood op pad en daarom moet die lewe so lank as moontlik geniet word. Vir die Prediker kan die dood nie van die lewe losgemaak word nie, en niemand het ‘n sê daaroor nie. Die dood maak almal gelyk, of jy wys of dwaas is, almal sterf, sonder enige besittings. 6×6, dieselfde lot tref almal.
Spreuke sê:
Die lewe lê voor vir wie by die reg bly, die dood wag vir wie aanhou kwaad doen. (11:19) Wie sy mond in bedwang hou, behou sy lewe wie sy mond nie kan hou nie, gaan sy ondergang tegemoet. (13:13)
Hierdie siening van die dood deel die Prediker nie, daarom hoor ons hom sê: In my lewe wat tot niks gekom het nie, het ek alles gesien: ‘n regverdige gaan onder al doen hy reg, ‘n goddelose geniet ‘n lang lewe, al doen hy verkeerd (7:15)
Omdat die dood nie ontsnap kan word nie en ‘n plek is waar ‘n mens vergeet word en dit leeg en leweloos is, beveel hy vreugde aan: Geniet die lewe met al jou mag, want daar is slegs een lewe.
Nou mag jy dalk vra, nou maar hoe moet ek my lewe geniet as ek weet die dood wag vir my? Hier moet ons insien dat vers 7-10 ’n opdrag van die Prediker is. In hierdie laaste verse gee die Prediker as’t ware ’n opdrag vir die mens oor hoe om die lewe te geniet.
Hy sê: Eet jou brood met vreugde en drink jou wyn met ‘n bly en vrolike hart. Geniet die kos wat jou tafel laat kreun. En onthou: God knik sy kop instemmend. Moenie rouklere dra nie, maar dra wit klere. Wit is die kleur van vrolikheid en vreugde. Gaan na die ontwerpers toe en laat hulle spesiaal vir jou mooi klere maak. Trek dit aan en geniet die lewe. Geniet die lewe met die man of vrou wat jy lief het. In die vreugde van die liefde word die lewe gevier.
Al kom die lewe tot niks, is dit God se geskenk aan jou. Vers 9 sê dat ons moet onthou dat hierdie lewe ‘n geskenk van God is.
Daar is amper ‘n teenstrydigheid by die Prediker. Aan die een kant sê hy die lewe is sinloos, maar aan die ander kant moet ons dit tog ernstig opneem. Eers word gesê alles kom tot niks en dan weer volg die oproep om die lewe te geniet.
Vir die Prediker het die absurde van die lewe in die onbeheerbare dinge gelê. In dinge soos om gebore te word, oorlog, siekte, teleurstelling, rampe en uiteindelik die dood. Hieroor het niemand beheer nie. Elke mens is hieraan uitgelewer. ‘n Goeie lewe kon die teenspoed nie keer nie. Dit is waarom die Prediker keer op keer gesê het dat alles in die lewe tot niks kom.
Elke mens het die een of ander beperking, siekte, ouderdom, ongeluk, geldtekort, die lysie gaan aan, en dit kan alle lewensvreugde demp. Dit kan ‘n mens selfs knak. Maar teen alle hoop in en omring van sinloosheid het die Prediker nogtans nie die lewe prysgegee nie. Hy wil hê dat mense skeppend en opwindend lewe. Hulle moet drome droom en dit najaag. Hulle moet elke nuwe dag gryp en iets daaruit haal. Hulle moet hulle nuwe lewensmoontlikhede ontdek en verwesenlik. Leef voluit en geniet die lewe.
In elke mens se lewe is daar die mooi, helder oomblikke, maar ook die donker ure, dae en jare; is daar sukses, maar ook talle mislukkings; is daar telkens ‘n traan by die lag; is daar by die jonkwees ook ouerword; is daar met die wins ook die verlies; is daar geboorte en ook die uitgerekte sterfbed. Om alles te vererger tref die ellende nie almal gelyk nie.
In wanhoop is daar nog hoop. In klag is daar lof. Al ervaar iemand geweldige laagtepunte, kan hy God nog loof. Gelowiges se lof tydens swaarkry is soms meer eg en dieper as in hulle voorspoed.
By die Prediker is daar ‘n dringendheid. Die lewe gaan gou verby en dit kom gou ‘tot niks’. Vandag is die tyd van liefde en die lewe moet hier en nou geniet word. Gryp die dag en leef! Die Prediker se raad aan ons is: Jy moet lewe, elke sekonde, met oorgawe. Om wys te leef is om alles wat jy doen met oorgawe en geesdrif te doen. Volg hierdie raad.
Ons leer by die Prediker om sin te vind in die alledaagse dinge. As ‘n mens gestroop is, vind jy die sin in die byna vanselfsprekende. TT Cloete het die wyse gedagte in sy gedig Uitgedun verwoord, so ook het Koos du Plessis dit gedoen in ‘n ongetitelde gedig in sy bundel, Om jou verlaas te groet.
TT Cloete skryf:
Ek dank U dat ek Heer soos van ouds vanoggend weer my baard mag skeer. Vroeër was ek gesteld op geweld en eer en geld. Nou is ek goedkoop gesteld op bloedsomloop en brood en stroop.
Koos du Plessis dig:
Eenvoud is die vreugde van die lewe: dis gee en neem net wat daar is; dis dankbaar eet van elke skewe snytjie brood wat liefde is.
Emmanuel Levinas sê dat ons die sin van die lewe in die ander vind. Liefde gee sin aan my lewe. Liefde wat sin aan my lewe gee, vra van my aandag vir die ander. Hierdie liefde beteken dat ek myself vir ander oopmaak. As die ander sien en ervaar, sien en ervaar ek dit ook. Vir Levinas is die ander ook ‘n gekwalifiseerde ander: die arme, die vreemdeling, die weeskind. Aan die ander moet ons gasvryheid toon.
Die ontmoeting met die ander is ‘n insny in die daaglikse gang van sake. Hierdeur word die ‘ware self’ wakker geroep. Om mens te wees, beteken om aan verhoudings met ander mense te bou. Die goeie lewe van ‘n mens is ‘n lewe tussen ander mense. Ons sien die plooie van tyd op die ander. Dit wek by ons deernis, vir onsself, en vir die ander. En in hierdie deernis vir die ander vind ons ruimte vir onsself en vir die ander. Dit alles maak die lewe sinvol.
En onthou wat die Prediker sê:
Eet jou brood met vreugde! Drink jou wyn met ‘n blye gemoed! Dra wit kleure! Versorg jou hare met olie! Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet! Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen!
Lap oor kansel, broodplank, brood, wynglas, skink wyn…
Ek eet my brood, ek drink my wyn, ek dra my feestelike klere. Ek geniet die lewe saam met my vrou, ek doen alles wat my hand goed vind om te doen. Maar dit maak my nie gelukkig nie…
Voordat jy nie besef dat soos jy eet en drink jy nie jou eie lewe vier nie. Maar die Een vier wat lewe aan jou gegee het, jy die Een vier wat die graan vir die broodjie laat groei het, jy die Een vier wat die druif vir die wyn laat swel het. Voordat jy nie besef dat jy in jou vrolikheid, in jou liefde, in jou sekuriteit, in jou spaarsamigheid, jou Skepper behoort te vier nie, sal jy nie werklik gelukkig wees nie.
Gryp die lewe! Carpe Diem! Gryp die lewe met al twee hande aan, saam met die Here, want Hy is die een wat die vreugde in jou lewe sit!
Gryp die lewe, saam die Here!
Amen.
Comments