top of page
Search
  • Writer's pictureFrancois Maritz

Die Gemaskerde Wonder…

Dit is wat werklik in die bediening gebeur, dit is wat nie al ons dosente vir ons wil se nie. Ek weet dit gebeur. My pa is ook ‘n dominee! Hierdie is hard! Die bediening is hard! En ek wil nou vir julle se, as julle nie regtig diep in julle harte oortuig is dat julle moet aanhou met teologie nie, moet nie! Moet nie jouself verloen vir iemand anders se drome nie! Moet nie teologie swot, net omdat dit na ‘n edele beroep lyk nie! Jy, en jou vrou, gaan in julle hande huil as jy nie met ‘n diepe oortuiging weet dat die Here jou plaas waar jy moet wees nie! Luister na Sy stem! Raak stil vir ‘n oomblik, sommer baie lank, en luister mooi na Hom! Want sonder Hom sal jy nie kan nie! Daar gaan baie moeilike tye wees! Maar daar gaan ook wonderlike tye wees wat jy vir niks sal wil ruil in jou lewe nie! Die bediening IS wonderlik! Dit is regtig kosbaar, en daarom, vir sulke dinge soos wat die dominee hier oor skryf om jou nie te laat twyfel nie, moet jy ‘n diepe verhouding met die Here he!

Ons het vandag oor die titel gepraat waarop jy mense aanspreek en waarop ander jou gaan aanspreek en die gevolge daarvan. Ja, daar is gevolge as mense hoor jy is dominee. Noem my sinies, noem my realisties, noem my optimisties, noem my idealisties, noem my dominee, noem my Francois, solank jy dit net doen vanuit die grootte Liefde wat die Here in jou hart kom plaas het!

Ek hoop julle wat hierdie lees, sal nie in die moeilikhede van die bediening vaskyk nie, maar eerder wonder hoe jy jouself, saam met jou gesin, saam met die Vader, die Seun, en die Heilige Gees, gaan posisioneer in jou bediening, wat dit ookal mag wees.

Toe ek klein was, was ek baie bang vir Dominees. Hulle het altyd in pakke klere rondgeloop, en Sondag het hulle so ‘n onheilspellende Batman- pakkie aangehad. Hulle kon ook in baie vreemde stemtone praat, maar darem “Jerusalem” so mooi in ronde letters sê. Hulle het altyd baie kwaai gelyk, seker maar oor al die sonde van die gemeentelede. Dit het ook nie gelyk of hulle vir ‘n grappie kan lag nie- dié wat hulle wel voor lag is heel simpel, soos die een van die wielspênner hy es nie…  Of dominees wat hel toe gaan en tacxibestuurders wat dadelik hemel toe gaan.
Groot was my skok en verbasing toe ek in Standerd 9 begin ervaar het dat die Here my ook roep vir diens as Dominee.  Wanneer ek die Bybel gelees het (en nog steeds vandag!) sien ek niks van titels en togas nie. Ek sien niks van Dominus- (Heerser in Latyn!) in die rol van ‘n predikant nie. Ek sien Jesus en ‘n groepie vissermanne wat saam om ‘n vuurtjie sit, en beplan om die wêreld met liefde te verander.  Dis die prentjie wat ek in my kop het van waarmee ek veronderstel was om besig te wees. Toe ek op Universiteit kom, het ons dadelik met die groot Teologiese vakke begin worstel- Ou Testament en Nuwe Testament Teologie. Nog later sou goeters soos Dogmatiek en Kerkreg op die toneel verskyn.  Baie ingewikkelde goeters, ‘n mens het ses jaar nodig gehad op universiteit om slim genoeg te raak om in ‘n gemeente losgelaat te word… So gedurende Universiteit het ek ‘n vreemde ding begin raaksien in die predikantekorps van die kerk. IEts wat my baie gepla het destyds. Wanneer daar gemeentelede naby is, het die manne (toe nog nie dames nie…) skielik ‘n masker opgehad. Stemtone het verander. Liggaamshouding was skielik meer dinamies, regop rug, glimlag om die mond want die lewe is mos altyd mooi, hande uit die sak uit, hemp mooi netjies ingesteek. Want sien- jy is immers ‘n pilaar waarop die gemeenskap gebou is. Mense kyk op na jou.  Hulle praat in ander stemtone as jy verbystap. Die goeie grappies droog op as jy by die skool se braaivleisvuur nader stap met jou stukkie chuck. En almal vertel die grappie van die wielspenner hy ês nie. En jy glimlag beleef, al het jy die grappie al 3000 keer gehoor… Die punt is: baie dominees ontwikkel ‘n masker- die beeld wat hy voorhou vir die gemeente. Dit gaan altyd goed met hom. Alles lo0p altyd reg in sy huwelik en met sy kinders. Hy het al die antwoorde vir al die vrae- hoekom gaan kinders dood, hoekom verloor goeie mense hulle werk, hoekom werk die meeste huwelikke nie uit nie… Altyd met ‘n vriendelike glimlag op sy gesig-  ”Ek is in beheer, volg my…” Ek sien dieselfde broers en susters op die predikante wegbreke. En in die aande rondom die vure by die Sinodeas ons daar in ons karavane kamp. Ek sien die seer van wat mense aan pastoriegesinne doen. Die onrealistiese verwagtinge. Die eis dat Dominee altyd perfek moet wees. Dat sy vrou altyd goed geklee sal wees, en sal lei wat die Vrouediens aanbetref. Sy kinders kry dit van voor by die skool, hulle moet altyd soet wees want hulle pa is mos die dominee… Ek het my voorgeneem om nie eendag met maskers in die bediening rond te loop nie. Ek het probeer eg wees in my menswees- soos ek by die braaivleisvuur Vrydagaand met ‘n glasie Camerca in die hand is, net so wou ek graag op die kansel wees, net so wou ek wees as mense my op straat raakloop.  Ek weet ek kom uit ‘n industriële dorp uit, ek weet my Afrikaanse gebruik is soms effens grof met stoute en donker woordjies in. Ek sê soms poepol en bliksem op my blog- en vir sommige mense is dit ‘n duidelike teken dat ek van die wa af is. Ek weet ek lag saam vir die stoute grappie langs die braaivleisvuur.  En ek is lief vir motorfietse en motorfietsryers, al suip hulle soms en al gaan dit soms woes op die rallies. Ek wou so graag daar wees, sout vir die wêreld wees en lig vir die aarde waar dit nodig is. As ekself. As kind van God. Nie as die een met die titel en die toga nie.  Net ‘n dissipel van Jesus soos elke ander gelowige veronderstel is om te wees, niks meer as dit nie. Na 19 jaar op die platteland moet ek dit vir myself begin erken: ek het ook maar ‘n masker begin ontwikkel. Ek glimlag ook maar liefies en probeer doen wat almal graag wil hê ek moet doen. Ek probeer ook maar almal tevrede hou, netnou raak die ou kwaad en betaal nie meer sy dankoffer nie, dan is my salaris in gedrang, hoe sorg ek dan vir my gesin? Die probleem met die masker is: verskillende mense hou van verskillende maskers. Die jongmense hou van die masker van ‘n nar, wat hulle entertain. Die ou mense hou van die masker van ‘n wyse man, wat diep en innig saamstem met hulle lewensfilosofie. Die armes hou van die masker van iemand wat saam met hulle sukkel, die rykes soek die masker van iemand vir wie hulle darem nie te skaam hoef te wees as die grênd mense groot funksies hou nie.   Jy moet darem lyk asof die Here jou seën met al die voorspoed wat daardie manne op TBN se kanaal verkondig, die mooi boodskappe van rykdom en seën wat reeds oormatig geseëndes so graag na luister. Toe ek jonger was het ek naiewelik geglo die Here roep my tot die bediening net soos ek is.  Dat ek maar net myself mag wees, wat van nature graag vir mense omgee en hulle wil help. Waar kom hierdie skrywe vandaan? Ek het ‘n Admin bedieningsvergadering gemis, omdat ek verpligtinge by die skool gehad het- ek dien op die Beheerliggaam in die portefeulje: kultuur. Dit was groentjiekonsert, en dit gee my altyd geleentheid om bietjie met die ouers te gesels en verhoudinge te bou. Na die tyd het die terugvoer van die vergadering gekom. 1. My facebookgebruik is kommerwekkend.  Dalk hierdie blog wat ek soms na my facebook toe link, waar ek wel al ‘n donker woord of twee gesê het.  MAar ek weet regtig nie- die persoon wat gekla het het niks vir my ooit gesê nie. Dit word net op kommissievergaderings bespreek. 2. Ek het op oujaarsdag saam met ‘n kerkraadslid na ‘n dorp in ons ringsgebied gery, en terwyl hy met sy besigheid besig was, het ek vir twee ure by die dominee daar gaan kuier. En ek het nie verlof ingesit daarvoor nie. My verlofbestuur is onder verdenking. Wel, die situasie was dat die vriend se vrou ernstig seergekry het in ‘n motorongeluk, net voor ons op vakansie weg was. Hierdie was die eerste geleentheid om hulle te gaan besoek en te bemoedig.  Die feit dat ek saam met ‘n kerkraadslid gery het, het my ‘n rit gespaar, en geleentheid gegee om lekker met die kerkraadslid te gesels langs die pad.  Ek het gedog dit is koninkryksake. Lyk my ek was verkeerd, ek sal maar ‘n verlofvorm gaan voltooi. 3. Ek het fiets gery tussen 11 en 1 een dag, en iemand kon my nie op die telefoon in die hande kry nie.  Wel, dié betrokke oggend moes ek iemand voor die 09h00 Bybelstudie sien, ek het Bybelstudie gehad tussen 09h00 en 10h00, daarna in die kerkkantoor gaan draai, en toe 11 uur gou 30 km gaan fietsry.  Ja, miskien het gemeentelede my “in werkstyd” op my fiets gesien. Daardie gemeentelid sou 16h00 lekker huis toe gaan vir die res van die dag. Ek het daardie dag van 15h00-21h30 huisbesoek gedoen.   Bestuurders moet altyd beskikbaar wees op hulle fone. Wel- as ek huisbesoek doen is my foon af. As ek siekebesoek doen, of iemand met seer sien, is my foon af. Ek bel altyd terug so gou ek kan. 4. As ‘n mens stad toe gaan om siekebesoek te gaan doen, dan sê ek op facebook ek het ook gaan boeke koop, en iets geëet daar, en soms gaan fliek ook. Hoe regverdig ‘n mens ‘n 15 minute siekebesoek in die stad  dan as werkstyd? As iemand siek genoeg is om voor stad toe te ry, dan doen ek dit.  Dit kos my 300 km se ry en 6 tolhekke. Ongeveer R500 se koste aan petrol, tolgeld en slytasie.  Ek kry nie ekstra vervoertoelaag om stad toe te gaan nie. Een stadstrippie is dadelik 1/5 van my maandelikse kilometers daarmee heen. Ek vra niks ekstra daarvoor nie, as iemand my nodig het, ry ek. Maar as ek stad toe gaan, moet ek die geleentheid gebruik ook. Ek kry nie al die klere/parte vir voertuie/ boeke vir my werk in ons dorp nie.  Gewoonlik is daar meer as een persoon êrens in verskillende hospitale- om van Montana na Pretoria-Oos na Unitas toe te gaan, neem baie tyd in beslag. EN ja, ek raak soms honger ook- en dan is Food Lovers Market se R45 hamburger darem baie lekker.  Fliek? EK kry nie meer tyd daarvoor op ‘n dag in die stad nie. DIe enigste kere wat ek in die fliek was verlede jaar was toe ek Skyfall saam met my vrou gekyk het toe ons kind in die hospitaal was, buite besoekure. Ek weet nie meer hoe om op te tree nie. Ek weet nie meer wanneer ek verlof moet insit vir wat nie. Ek weet nie meer wanneer mag ek fietsry dat iemand êrens nie dalk dan vir my gaan nodig hê vir wie my kollega nie net so goed sou kon help nie.  Ek weet nie meer wat ek op my blog mag skryf nie, dalk is hierdie nog ‘n spyker in my eie kis. Sela. Ek weet nie meer watter masker om op te sit vandag nie. My masker het gisteraand geval. Ek gaan nou in werkstyd fietsry. Dan gaan ek my verlofvorm vir vandag voltooi. Dan gaan ek soek na ‘n geskikte nuwe masker om aan te sit, om te lyk of ek werklik uitermatig gelukkig voel. Erens, eendag lank lank gelede, het ‘n Man saam met ‘n klomp vissermanne om ‘n vuurtjie gesit en droom van ‘n wêreld wat met liefde verander word… ‘n wêreld sonder maskers. Maranatha.
1 view0 comments

Recent Posts

See All

The Question That Converts Change Resistors

Have you ever designed or created something and then presented it to someone (client or team) for approval or use – only for them to flat out reject it? (Queue sad music…) This could be the innovati

Post: Blog2_Post
bottom of page